cycle-image cycle-image cycle-image cycle-image cycle-image

Klein distrikte en top landgoedwyne val in

09 May 2012

Die jaarlikse groei van die Novare SA Terroir Wyntoekennings wat vanjaar vir die sewende keer aangebied word, asook die verandering van wyke na distrikte, het die organiseerders gedwing om nog verder te kyk, op voorwaarde dat die geloofwaardigheid van die term “terroir” deel bly van al die inskrywings.

Na lang gesprekke met rolspelers was daar konsensus dat klein distrikte wat nie in wyke verdeel is nie werklikwaar ‘n eiesoortige grond en klimaat verteenwoordig. Wyne wat as Wyn van Oorsprong van daardie distrikte gesertifiseer is, kan dus ook deelneem, naamlik Calitzdorp, Cape Point, Citrusdalvallei, Elgin, Franschhoek, Langeberg-Garcia, Plettenbergbaai, Tulbagh.

“Net enkelwingerdwyne, landgoedwyne en wyne gesertifiseer as ’n produk van ’n spesifieke wyk kon deelneem om sodoende net die ware terroir-wyne te verteenwoordig. Maar met wyke soos Franschhoek en Elgin wat onlangs deur die Wyn- en Spiritusraad se afbakeningskommittee op hul versoek en met goedkeuring verander is van ‘n wyk in ’n distrik na ’n distrik op sy eie, moes ons aanpas.

Dit sou onregverdig wees om daardie areas nou te diskwalifiseer en dit het die gedagte na vore gebring dat alle kleiner distrikte wat nie in wyke verdeel is nie, wel kwalifiseer om deel te neem,” sê Marius Labuschagne, projekleier van Novare SA Terroir Wyntoekennings.

En na die groot belangstelling en reaksie op die eerste Novare Trofee vir die SA Terroir Top Wynlandgoed is daar besluit om ook vanaf 2012 die Top 5 Landgoedwyne wat ingeskryf is in die uitslae aan te kondig. Die vyf landgoedwyne wat die hoogste punte ontvang het, sal dus erkenning kry tesame met die Trofee vir die Top Wynlandgoed. Verlede jaar het Jordan Landgoed die eerste Top Wynlandgoed-trofee gewen. Nog ’n hoogtepunt is die derde Novare Trofee vir die Top Wynarea, wat in 2010 en 2011 onderskeidelik deur Wellington en Durbanville verower is.

Vanjaar se sewe beoordelaars met jare se ervaring van al die wyne uit al ons terreine is Andrea Freeborough, Dave Hughes, David Biggs, Pierre Marais, Marilyn Cooper, Irina von Holdt en Guy Webber. Die beste wat verskillende grond en klimaat in verskillende gebiede na vore bring, staan uit en kry erkenning.

Die Nasionale Wenners van SA Terroir Wyntoekennings sal by die toekenningsfunksie met sertifikate vereer word. Die wenners van areas sal in die amptelike uitslae-dokumentasie aangekondig word en sertifikate is beskikbaar op bestelling. Bottel-seëls is ook op bestelling beskikbaar aan nasionale wenners asook die distrik/wyk-wenners. Die Wyn- en Spiritusraad ondersteun die konsep van die kompetisie. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 22 Junie.

Meer inligting is beskikbaar op www.terroirwineawards.co.za, of tree in verbinding met Elma Brand, projekkoordineerder (tel. 021 863 0397; events@agrimega.co.za), of Marius Labuschagne, projekleier (tel. 021 975 8166; mlab@iafrica.com).