cycle-image cycle-image cycle-image cycle-image cycle-image

Skryf nou in vir SA Terroir Wyntoekennings

14 Mar 2019

Inskrywings is nou oop vir die 14de Novare SA Terroir Wyntoekennings, een van die wêreld se mees eksklusiewe wynkompetisies weens die streng Wyn van Oorsprong-reëls wat daarmee van toepassing is.

Die kompetisie bekroon die beste wyne wat deur verskillende grond- en klimaatsfaktore in die verskillende gebiede in die Suid-Afrikaanse wynland na vore gebring word. Slegs produkte gesertifiseer as Wyn van Oorsprong (WO) van 'n Enkelwingerd, Landgoed, Wyk of Distrik, wat nie verdeel is in meer as een wyk nie, mag ingeskryf word.

Aangesien die wyne wat hier meeding aan die vereiste van ʼn spesifieke terroir uit die grond en klimaat moet voldoen, kan die oesjaar ʼn kernrol speel. Terroir wat ʼn baie goeie oesjaar vir spesifieke kultivars opgelewer het, sal sekerlik uitblink.

Opwindende nuus vir wynmakers en wingerdbouers is dat ‘n nuwe trofee en twee nuwe kategorieë nou by die kompetisie ingesluit is.

‘n Nuwe trofee is van vanjaar af op die spel vir die algehele Top Wyn. Die nuwe kategorieë is Beste “Certified Heritage Vineyard” wyn en Beste Strooiwyn.

Inskrywings sluit op 11 Junie 2019 en die beoordeling vind plaas van 2 – 5 Julie. Die volume wyn wat beskikbaar moet wees, is 240 bottel (180 liter). Die toekenningsdinee word op Donderdag 1 Augustus gehou.

Novare was uit die staanspoor die naamborg van die SA Terroir Wyntoekennings en het aangekondig dat sy ondersteuning daarvoor – nou onder beskerming van die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSA) – onafgebroke sal voortgaan.

Novare Equity Partners is 'n gevestigde private-ekwiteitsfondsadviseur wat fokus op kleinhandel- en kommersiële eiendomsontwikkeling in sub-Sahara Afrika. Novare is bekend vir die lewer van uitsonderlike langtermynbeleggings opbrengste vir, hoofsaaklik institusionele, kliënte. Derrick Roper, Besturende Direkteur van Novare Equity Partners, sê: "Die kuns van wynmaak het baie in gemeen met beleggings – beide vereis geduld, vaardigheid en instink. NEP is trots om geassosieer te word met die gesogte Novare SA Terroir Wyntoekennings as die hoof borg."

Christo Pienaar, voorsitter van SANWSA, sê dat 'n ooreenkoms verlede jaar met die stigter van die SA Terroir Wyntoekennings (in 2006), Marius Labuschagne, bereik is om eienaarskap daarvan te neem en dit voortaan aan te bied. “Ons is opgewonde om so ʼn gespesialiseerde wynkompetisie aan boord te kry en dit na die volgende vlak van uitnemendheid te neem. Ons sal die kompetisie in noue samewerking met Novare ontwikkel, met groter toegevoegde waarde vir almal betrokke."

Inskrywingsvorms is aanlyn beskikbaar by www.terroirwineawards.co.za.

Vir meer inligting kontak die organiseerders:
Tel 021 863 1599, e-pos info@terroirwineawards.co.za
 

Bennie Howard ( SANWSV) , Elize Botha (Novare), Derrick Roper (Besturende Direkteur Novare), Marina Roper (Projekbestuurder, Live in Taste), Christo Pienaar (Voorsitter SANWSV) en Elsabe Ferreira (SANWSV)