cycle-image cycle-image cycle-image cycle-image cycle-image

Suid‐Afrika se top wynlandgoed vir die eerste keer vereer

01 Mar 2011

Vir die eerste keer in die Suid‐Afrikaanse wynbedryf gaan Suid‐Afrika se Top Wynlandgoed aangewys word by die 2011 Novare SA Terroir Wyntoekennings, die jaarlikse wynkompetisie waar erkenning gegee word aan wyne wat as Landgoed‐, Wyk‐ of Wingerdwyn gesertifiseer is.

Hierdie kompetisie is nou ses jaar aan die gang en die klem is op wyne wat ‘n spesifieke grond en klimaat verteenwoordig. Dit is waarna die Franse term “terroir” wat internasionaal gebruik word, verwys.

“Een van die ikoniese uitbeeldings van ‘n terroir‐spesifieke wyn is ‘n landgoedwyn. Produsente wat dit met ‘n passie toepas verdien inderdaad erkenning. Daarom gaan die Novare Trofee vir Suid‐Afrika se Top Wynlandgoed vanjaar in werking tree,” sê Marius Labuschagne, stigter van SA Terroir Wyntoekennings.

Volgens Charl Theron, tegniese koördineerder van SA Terroir Wyntoekennings en deeltydse lektor in Wynkunde by die Universiteit van Stellenbosch, is landgoedwyne deel van Suid‐Afrika se wynkultuur en iets baie spesiaals. “Ek is bly dat die Novare SA Terroir Wyntoekennings nou hierdie nodige erkenning uitwys. Die debat tussen rolspelers was om of die trofee aan die top landgoedwyn of die top wynlandgoed toe te ken. Die slotsom van die meerderheid na verskeie gesprekke was eerder die top wynlandgoed as top landgoedwyn”.

Die wenner van die Top Wynlandgoed‐trofee word gekeur op grond van die aantal wyne van die spesifieke landgoed wat vir die finale rondte van Nasionale Wenners SA Terroir Wyntoekennings gekeur is, tesame met die aantal Nasionale Wenners indien van toepassing.

Om ‘n landgoedwyn te maak moet die eenheid vir die produksie van landgoedwyn geregistreer wees as landgoed (dit kan uit verskeie aangrensende plase bestaan), alle druiwe van die geregistreerde eenheid afkomstig wees en die wyn geproduseer en gebottel wees in die kelder op die geregistreerde eenheid. Slegs dan kan die woord Landgoed of Estate op die etiket staan.

Die Top Wynlandgoed‐trofee volg na die instelling van die Novare Trofee vir die SA Terroir Top Wyngebied verlede jaar, gebaseer op die aantal wyne uit ‘n spesifieke wynbougebied wat hoog aangeslaan is. Beide die Top Wyngebied en Top Wynlandgoed is wisseltrofeë.

Die trofeë is ‘n toevoeging tot die jaarlikse Nasionale Wenners van die kultivar‐wyne, rooi en wit versnitte, dessertwyn en vonkelwyn, asook erkenning aan die wyne wat in spesifieke gebiede die top presteerders is. Die puntetoekennings word gemonitor en bevestig deur ‘n geoktrooieerde rekenmeester van die borg Novare. Verlede jaar is 17 Nasionale Wenners
aangewys en 79 top wyne van spesifieke gebiede. Vanjaar se sewe beoordelaars is Altus le Roux, Andrea Freeborough, David Biggs, Dave Hughes, Erika Obermeyer, Guy Webber en Pierre Marais.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 28 Junie. Meer inligting en inskrywingsvorms is beskikbaar op die webwerf www.terroirwineawards, of tree in verbinding met Elma Brand, projekkoördineerder, by tel 021 863 0397, e‐pos events@agrimega.co.za, of Marius Labuschagne, projekleier by tel 021 975 8166, e‐pos mlab@iafrica.com.